Home
Who are we?
Newsletter
Foundation Phase
Intermediate Phase
Senior Phase
FET
FET Colleges
Literature
Teacher Resources
Contact Us
Orders
Credit Facilities
Pricelist
Our nation's education is our commitment

Persverklaring: Droomskip en ander radiodramas

ISBN: 978-1-415-40289-4

Samesteller: Herman van der Westhuizen

Formaat: 208 bladsye

              met MP3’s op CD ingesluit

Uitgewer: Nasou Via Afrika Uitgewers

Prys: R131-95      HyperLink

 

Blindemol – Chris Barnard

Beseringstyd – Charles J. Fourie

Droomskip – S.D. Fourie

Nagwaak – Helena Hugo

Omdat die wind alleen is
– Engela van Rooyen

Die losprys – Fanie Viljoen

 

www.nasou-viaafrika.com

 

 

Nasou Via Afrika Uitgewers kondig met trots ’n besondere literêre gebeurtenis aan: die publikasie van ’n splinternuwe radiodramabundel! – Droomskip en ander radiodramas

 

Blindemol – Chris Barnard ● Beseringstyd – Charles J. Fourie ● Droomskip – S.D. Fourie ● Nagwaak – Helena Hugo ● Omdat die wind alleen is – Engela van Rooyen ● Die losprys – Fanie Viljoen

 

Radiodrama is ’n eiesoortige genre wat in die eerste plek bedoel is om na geluister te word. Die radiodrama as teks is egter ook ’n besondere literêre genre wat unieke uitdagings aan die skrywer stel – reeds tydens die skryfproses moet die ouditiewe aard en verskeie tegniese aspekte in gedagte gehou word.

Afrikaans-huistaalleerders moet tydens die Verdere Onderwys en Opleidingsfase (VOO-fase, Grade 10, 11 en 12) ’n vierde genre as deel van die gestelde uitkomste van die Nasionale Kurrikulum Verklaring (NKV) behandel. Die keuse kan gemaak word tussen byvoorbeeld ’n filmteks, verhoogteks of radiodramateks. Ongelukkig bestaan daar min gepubliseerde eietydse dramas. Dit bemoeilik die onderwyser se taak aansienlik en lei daartoe dat gedateerde tekste (wat verwyder is van leerders se verwysingsveld) tot vervelens toe behandel word. Die hoorspel / radiodrama is ook spesifiek ingesluit by die NKV vir Drama-leerders. Hierdie bundel is ook uiters geskik vir die onderrig van ’n derde genre aan Afrikaans-EAT-leerders.

Met Droomskip en ander radiodramas bied Nasou Via Afrika die beste oplossing vir die uitdaging waarvoor Afrikaans- en Drama-onderwysers te staan kom. Die bundel bestaan uit ses radiodramas wat oor die volgende unieke eienskappe beskik:

  • Uniek aan hierdie publikasie en vir die eerste keer in Afrikaans word die hoorspele in MP3-formaat op CD by die gedrukte publikasie ingesluit. Die opnames is professioneel gedoen en die verskeie rolle word vertolk deur van die beste en bekendste Suid-Afrikaanse stemakteurs. Leerders kan dus na die hoorspele luister terwyl hulle die teks in die boek volg, wat die publikasie volgens kurrikulumadviseurs besonder nuttig maak vir die onderrig van die genre.

  • Die meerderheid van die dramas het voortgevloei uit die jaarlikse RSG/Sanlam-Radiodramaskryfkompetisie en sluit verskeie van die wentekste van die kompetisie in – insluitend die titeldrama, Droomskip, wat in 2008 met die eerste prys vir gevestigde skrywers in die kompetisie bekroon is, asook Blindemol wat spesiaal geskryf is ter viering van die sewentigste bestaansjaar van Afrikaanse radio en in 2007 bekroon is met ’n erepenning deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

  • Die radiodramas in hierdie bundel getuig dus nie net van literêre gehalte wat uitstekende voorbeelde van goeie letterkunde vir HT- sowel as EAT-leerders bied nie, maar is ook gekies vir hul kwaliteit as opvoerbare tekste wat die kenmerke van die genre gestand doen.

  • Dit is alles werke deur bekroonde en bekende skrywers – insluitend die veteraan dramaturg, Chris Barnard; die veelvuldig-bekroonde dramaturg, Charles J. Fourie; die onlangse wenner van die opwindende 2008 RSG/Sanlam-Radiodramaskryf-kompetisie, S.D. Fourie; een van die mees ervare skrywers vir radio en ook ’n bedrewe regisseur van radiodrama, Helena Hugo; multigenre talentvolle Engela van Rooyen; en een van die mees gewilde eietydse jeugboeskrywers, Fanie Viljoen.

  • Die bundel bevat ’n voorwoord geskryf deur Margo Luyt, hoof van radiodrama by RadioSonderGrense en bestuurder van die jaarlikse RSG/Sanlam-Radiodramaskryfkompetisie.

  • Die kundige inleiding is geskryf deur die bekende omroeper Eben Cruywagen. Dit bied ’n oorsig oor die geskiedenis van die radiodrama of hoorspel en bied praktiese riglyne aan die leerder oor elemente en aspekte van radiodrama, insluitend spraak, musiek/byklanke en radiodramaproduksie.

  • Die praktiese en tegniese gegewens in die inleiding word duidelik geïllustreer met behulp van foto’s wat tydens ’n professionele opname spesiaal vir hierdie publikasie en doel geneem is. Leerders kry hiermee ’n kykie binne die ateljee en kan duidelik sien hoe die proses verloop waardeur ’n radiodrama opgevoer, opgeneem en uitgesaai word.

  • Om die bruikbaarheid binne ’n opvoedkundige konteks verder te verhoog, word daar woordverklarings van unieke woorde en streekstaal na elke drama verskaf.

  • Elke drama bied ook ’n aantal besprekingsvrae wat vir die onderrig van die drama benut kan word.

  • Die tekste is van gemiddelde lengte en dek ’n verskeidenheid onderwerpe en temas. Dit bied ’n sinvolle oorsig van die genre as deel van die kontemporêre Afrikaanse letterkunde. HT- en EAT-leerders in Graad 10-, 11- en 12 sou in elke jaar ’n ander drama kon behandel en sodoende ’n gebalanseerde oorsig van die genre verkry. Die tekste is ook geskik vir die onderrig van Afrikaanse drama aan Graad 10- en 11-leerders en aan voorgraadse studente op tersiêre vlak.

  • Leerders word blootgestel aan beide die gedrukte literêre teks (die radiodrama in teks-formaat wat getrou aan die voorskrifte van die praktyk geset en aangebied is) en die hoorspel (die radiodrama in ouditiewe formaat wat professioneel opgevoer en suksesvol uitgesaai is).

  • Die aantreklike en lesersvriendelike aanbieding en voorkoms van die boek bring mee dat dit nie bloot vir skoolgebruik geskik is nie; algemene lesers en veral liefhebbers van die radio en teater sal dit ook geniet en verrykend vind.

Droomskip en ander radiodramas is ’n pragpublikasie wat uiters noukeurig saamgestel en versorg is. Dit voldoen aan die voorskrifte van die NKV en beloof om ’n unieke ervaring te bied vir die behandeling van radiodrama in die Suid-Afrikaanse klaskamer. Die radiodrama as “teater van die verbeelding” kom tot sy volle reg met hierdie bundel en alle Afrikaansleerders behoort dié leerervaring te geniet.

Die boek kan bestel word vanaf On the Dot-verspreiders by telefoonnommer 021 918 8810 of per e-pos by orders@onthedot.co.za

Werkwinkels oor radiodrama as genre en hoe dit kreatief in die klaskamer aangebied kan word, kan gereël word. Skakel asseblief in hierdie verband met die uitgewer, Rudi Venter , by rudi.venter@nasou.com of 021 406 3066 of 082 339 3674.

 

Last updated 03/06/2009
© Nasou Via Afrika (NVA) 2008